Dis ’n feit dat baie vroue hulle steeds in gewelddadige verhoudings bevind. Daar is egter tekens waarvoor jy behoort op te let voor jy kniediep in só ’n verhouding beland:

 Neem jou geskiedenis in ag

Die geskiedenis is geneig om homself te herhaal. As jy as kind, of in ’n vorige verhouding, mishandel is of geweld ervaar het, moet jy baie versigtig wees. Jy sal geneig wees om na dieselfde tipe situasie of verhouding terug te keer, sê dr. Swart, ’n forensiese sielkundige. Jy sal waarskynlik ook onseker en chronies minderwaardig voel en daarom probeer om jou “waarde” te bevestig deur jouself te onderwerp aan so ’n metgesel en afhanklik van hom te raak.

Jy vrees dat niemand jou sal liefhê of bemin nie

Jy is daarom bereid om die onreëlmatigheid van jou metgesel se aandag (selfs wanneer dit negatief is) te aanvaar in ruil vir die beter tye van standvastigheid en liefde. Die patologiese behoefte van die geweldenaar om te domineer en die behoefte van die slagoffer om waardeer te word, is daarom die “ideale” pasmaats.

Herken geweld

Aangesien persoonlike en huishoudelike geweld ontwykend is – dit is nie konstant en openlik nie – is dit veral aanvanklik bedrieglik en moeilik om te identifiseer, waarsku dr. Swart. Leer ken daarom deur introspeksie jouself (jou wense en behoeftes), asook jou maat se persoonlikheid, optrede en geskiedenis. Indien hy ’n verlede van geweld en misdaad het, is daar ’n risiko dat hyself gewelddadig kan raak.

 

Daar is rofweg drie tipes (huishoudelike) geweldenaars:

Die een wie se insidente tot die huis beperk is, is die minste geneig tot geweld. Enkele voorvalle kom voor. Dit hou gewoonlik verband met ’n stresvolle gebeurtenis soos konflik, of werks- of finansiële probleme. Sulke geweldenaars is meer geneig om skuldig te voel, berou te hê en professionele hulp te aanvaar, sê dr. Swart.

Die tweede tipe geweldenaar het ’n natuurlike vrees vir verwerping en is waarskynlik in sy ouerhuis verwaarloos. Hy sukkel om ’n standvastige vertrouensverhouding te hê en raak maklik jaloers en obsessief. Hy neig tot onstabiele emosies en kan impulsief optree. Wanneer hy kwaad en gefrustreerd voel, kan hy tot geweld oorgaan. Sy jaloesie is die grootste probleem. As hy glo sy verhouding word be­dreig, kan hy tot uitbarsting kom. Hy kan ook geneig wees tot moord-selfmoord.

Die derde tipe geweldenaar staan as antisosiaal-gewelddadig bekend en is chronies gevaarlik. Hy is gewelddadig binne en buite die huis, het ’n patologiese behoefte aan mag en beheer, en het ’n onbuigbare idee van sy vrou se (onderdanige en minderwaardige) rol in die huis en die verhouding. Gewoonlik raak hy by misdadige aktiwiteite betrokke en het hy ook ’n verlede van geweld. Hy is nie geneig om skuldig te voel of berou te hê nie, en regverdig die gebruik van geweld om sy doel te bereik.

Die antisosiaal-gewelddadige man behoort vroeg die gevaarligte te laat flikker, sê dr. Swart. Enige vorm van misdadigheid en geweld teen ander mense of diere, asook ’n impulsiewe, risiko-soekende en meedoënlose houding dui reeds op ’n probleem.

Moet nooit enige mishandeling – onder meer emosioneel, seksueel of dreigemente – duld of regverdig nie, sê dr. Swart. “Slagoffers is geneig om dit te doen.” Let daarom reeds vroeg in die verhouding op na gevaarseine en moenie daarvoor verskoning maak nie. Indien die geweldenaar hulp aanvaar, maak daarvan gebruik.

 

Kinders en huishoudelike geweld

Die effek van huishoudelike geweld in die ouerhuis is een van die grootste enkele faktore van sielkundige probleme later in die lewe, sê dr. Swart. Wanneer ’n jong kind aan geweld by die huis blootgestel word, verhoog sy kanse om in sy tienerjare en as volwassene te ly aan posttraumatiese stresversteuring (PTSD), depressie, ’n angsafwyking, alkohol- en/of dwelmverslawing, gedragsprobleme of ’n persoonlikheidsversteuring. Studies het trouens bevind dat daar nie merkwaardige verskille is tussen kinders wat mishandel is en kinders wat geweld in die huis aanskou het nie, sê dr. Swart.

Kinders uit sulke huise is geneig tot meer aggressie en staan ’n groter kans om self later huishoudelike geweld toe te pas (gewoonlik manlik), of daaraan onderwerp te word (gewoonlik vroulik). ’n Baie jong kind kan teruggetrokke raak en gedragsprobleme ontwikkel (soos om uitbarstings te hê, aggressief te wees, die bed nat te maak of diere seer te maak). Sy skoolwerk kan ook agteruitgaan.

“Die belangrikste faktor wat die latere skade versag, is ’n sterk positiewe verbintenis met ’n volwasse versorger, gewoonlik die ma. Tydige, toepaslike en professionele hulp (een tot een) lewer ’n belangrike bydrae tot die kind se herstel en veerkragtigheid,” sê dr. Swart.

Sy beveel aan dat kinders uit ’n gewelddadige omgewing verwyder word, sielkundige bystand kry, hul identiteit beskerm word, hulle op ’n verantwoordelike manier ondervra word en daar ’n veilige hawe en benodigdhede tot hul beskikking is. So ’n kind hoort verkieslik in sy ma of goedgekeurde familielede se sorg. Goeie opvoeding en gereelde monitering is ook belangrik, sê sy.

 

Doen dié stappe

Dreigemente en pogings om ’n gewelddadige verhouding of huwelik te verlaat, hou die grootste risiko vir verhoogde geweld in, sê dr. Swart. Die geweldenaar voel dan in die steek gelaat en reken dat sy vrou nie die reg het om hom te verlaat of teen hom op te staan nie. Dit krenk sy ego en laat hom onseker voel. Hy wil tog graag sy eie mag bewys.  Vir baie mans is hul eer en selfvertroue afhanklik van hul besittings en hoe hul beeld na buite lyk. ’n “Oneerbiedige” en “opstandige” vrou kan ervaar word as ’n klad op die man se naam, wat sy manlikheid aantas.

Dr. Swart sê sy kan nie genoeg beklemtoon nie dat die stappe wat jy doen om ’n toename in geweld te verhinder ’n uiters persoonlike saak is wat geskik moet wees vir jou unieke omstandighede en persoonlikheid.

Sy gee dié wenke:

  • Doen eerstens stappe om jouself en jou kinders te beveilig en, waar nodig, mediese hulp te kry.
  • Verwyder, indien moontlik, jouself en jou kinders uit die situasie/omgewing.
  • Tree in verbinding met iemand wat jy vertrou, soos ’n vriendin, kerkleier, familielid, gemeenskapsraadgewer of dokter.
  • Maak ’n strafregtelike saak aanhangig. Maak net eers seker jy en jou kinders is veilig en dat jy wel bereid is om die saak deur te voer.
  • Kry ook ’n interdik of beskermingsbevel teen jou aanvaller.
  • Skryf alle gewelddadige gebeure neer, neem foto’s (van jou stukkende of kneusplekke) as bewys en kry, waar moontlik, verklarings van getuies. Moenie enige bewyse vernietig nie.

Dit is baie belangrik om hulp te kry. Jy kan ook by ’n skuiling vir geweldslagoffers aanklop en/of jou tot Rape Crisis wend.

 

Uittreksel uit: Vlees en bloed, Riette Rust, Eileen de Jager & Roelien Schutte, LAPA Uitgewers (2016)

Advertisements