Dikwels is dit selfs die owerhede, veral die polisie, wat op só ’n wyse met wapens te werk gaan dat ’n mens net kopskuddend na die resultate kan kyk.

Op 23 Mei 2015 word Michael Brelo, ’n polisieman van Cleveland, Ohio, onskuldig bevind aan die moord op twee hawelose insittendes in ’n motor. Die noodlottige voorval het in 2012 in Cleveland plaasgevind.

Timothy Russell (43) en Malissa Williams (30), twee dwelmverslaafdes, se Chevy Malibu word deur ’n verkeers­polisieman in ’n ongemerkte motor opgemerk toe hulle ’n verkeersoortreding begaan. Die polisieman aktiveer sy blou lig en beduie aan die bestuurder om van die pad af te trek. Die bestuurder maak so, maar terwyl die geregsdienaar naderstap, trek die oortreder met skreeuende bande weg. ’n Chaotiese jaagtog volg.

Terwyl die motor voor Cleveland se polisiehoofkwartier verbyjaag, plof die enjin terug. ’n Polisieman voor die gebou spring in sy kar en roep oor die polisieradio: “Old Chevy on St. Clair just popped a round!” Die opmerking, wat deel was van polisieradiotranskripsies wat as bewysstuk aan die hof voorgelê is, is die vonk in ’n kruitvat. Die kranksinnige jaagtog deur die stad se strate duur twintig minute. Een derde van Cleveland se polisiemag van 276 en 62 voertuie neem aan die operasie deel.

Tydens die gejaag kom verskeie verwarrende boodskappe oor die lug. Sommige polisiemanne beweer dat iemand uit ’n passasiersvenster op hulle skiet, terwyl ’n ander sê dat dit iemand is wat swart handskoene aan het, ’n blikkie koeldrank in sy hand hou en beduie hy wil stop.

Minute later skuif die Chevy Malibu tot stilstand op die parkeerterrein van ’n laerskool. Binne 8 sekondes word 137 skote op die verdagte motor gevuur. Brelo skiet die eerste magasyn van 17 skote uit sy Glock 17 vanuit die sitplek van sy patrolliemotor leeg. Hy spring uit, herlaai en skiet nog ’n magasyn leeg voordat hy op die enjinkap van die Malibu spring en sy derde magasyn in die windskerm en die voorste sitplekke van die kar leegmaak. Albei insittendes sterf op die toneel.

Dit word gou duidelik dat die slagoffers twee ongewapende, hawelose mense was. Russell is deur 23 skote getref en Williams deur 24. Poppe van ballistiese was, met sonderingstawe wat in elke moontlike windrigting die trajek van die skote aandui, het weke lank voor in die hof gestaan as bisarre, stille getuienis van polisie-onbekwaamheid en die skade wat aangerig kan word deur die onoordeelkundige gebruik van vuurwapens.

Ballistiese getuienis vorm die kern van die staat se saak. Die sonderingstawe dui aan dat verskeie noodlottige skote van bo geskiet is en dat daardie skote deur Brelo se Glock 17 afgevuur is. Vyf weke later word Michael Brelo onskuldig bevind aan strafbare manslag, omdat daar nie bewys kan word dat die skote wat hy afgevuur het, die enigste was wat vir die dood van die insittendes verantwoordelik was nie.

Ook die Suid-Afrikaanse polisie skiet dikwels wild. In 2014 hou ’n man by ’n T-aansluiting in Silverton, Pretoria, stil. Net voordat hy wil oorsteek, jaag ’n Datsun-bakkie voor hom verby, sekondes later gevolg deur twee ongemerkte polisievoertuie. Honderd meter vanaf die T-aansluiting word die bakkie van die pad gedwing. Polisiemanne spring uit die motors en ’n wilde skietgeveg volg. Die man by die T-aansluiting draai sy bakkie in die teenoorgestelde rigting en probeer wegjaag, maar die agterste ruit van sy voertuig spat aan skerwe. Wonderbaarlik doen hy slegs ’n skrams koeëlwond aan sy regterslaap op. Later word 29 doppies, afkomstig van ’n verskeidenheid outomatiese wapens, op die toneel opgetel. Die swaarvragmotor van ’n vervoer­maatskappy wat ’n ent weg geparkeer was, word ses keer raakgeskiet, onder andere in sy dieseltenk. Luidens gerugte was die polisie op soek na twee mans in ’n bakkie wat ’n handsak met ’n selfoon in gesteel het.

Die ballisties-forensiese wetenskap bied uiteindelik een van die belangrikste maniere waarop verhinder kan word dat die drukkoker van anargie ontplof. Boosdoeners moet besef dat daar bekwame mense is wat wetenskaplike tegnieke gebruik om misdaad te beveg. Maar, soos met elke ander wetenskaplike veld, sal daar nog baie navorsing gedoen moet word. Daar sal altyd weer iemand wees wat ’n sneller trek, hetsy in woede, jaloesie, hebsug of die een of ander kinkel in sy donker gedagtes. Die kultusleier en moordenaar van die aktrise Sharon Tate, Charles Manson, het ná die uitspraak in sy hofsaak gesê:

“Mister and Missus America, you are wrong. I am what you made me. And the mad dog devil killer fiend leper is a reflection of your society. The children that come at you with weapons are your children. I did not teach them. I just tried to help them stand up.”

Die volgende tragedie word al klaar weer geskryf. Op hierdie oomblik. Telkens sal ons wéér ons kop skud en vrae vra soos: Hoekom moord? Hy het dan alles gehad wat sy hart begeer.

Hierdie narratief gaan nóóit ’n laaste hoofstuk hê nie. Die forensiese wetenskap kan dit wel rem.

Uittreksel uit: Koeëlreën: Wapens, bloedspatsels en wonde, Japie Bogaards & Wollie Wolmarans, LAPA Uitgewers (2017)

Advertisements