Die peuter met die bokstertjies wat punt in die wind staan, kom op mollige beentjies na my toe aangehardloop. Sy strek haar arms uit en kraai van die lag as ek haar optel. Sy lyk blakend gesond en uitbundig gelukkig. Glad nie menssku nie. Nes enige ander kind wat baie aandag en liefde kry.

Hierdie klink na ’n doodgewone toneel wat hom daagliks by enige kleuterskool kan afspeel. Maar daar is een groot verskil. Die skattige kind is saam met haar ma in die tronk toegesluit.

Tydens my besoek aan die Johannesburg-gevangenis se vroue-afdeling is hierdie dogtertjie een van 27 babas wat saam met haar ma by die spesifieke gevangenis agter tralies woon en een van 83 babas landwyd. Dis ’n onderwerp waaroor mense geweldig emosioneel raak en waarvoor Salomo se wysheid benodig word.

Hierdie kinders het hul ma’s nodig, maar om in ’n gevangenis groot te word, is nie die ideale omstandighede nie. Dié situasie is dan ook een van die departement van korrektiewe dienste se grootste uitdagings wanneer swanger ma’s of ma’s met babas gevangenisstraf moet uitdien.

Klein Lindiwe* (1) kry drie voedsame maaltye per dag en sy word met liefde oorlaai. Maar as sy twee jaar oud is, word sy van haar ma geskei. Hoe hartverskeurend is dit nie?

Natuurlik is sy op hierdie brose ouderdom nog salig onbewus daarvan dat sy haar eerste twee lewensjare agter tralies in die vroue-afdeling van die Johannesburg-gevangenis (ook “Sun City” genoem) deurbring.

Vir haar is die gevangenis haar tuiste. In haar kort lewetjie ken sy niks anders nie. Dis ’n geval dat die abnormale vir haar normaal is.

Die ironie is dat sy hier “gelukkiger” is as talle werkende ma’s se kinders omdat sy 24 uur lank per dag by haar ma kan wees en haar ma se onverdeelde aandag kan kry. Soos die ander babas agter tralies word sy ook oorlaai met liefde deur DKD se personeel. Baie van die vroulike bewaarders is mammas en party is al self oumas. Hulle koer behoorlik oor die babas.

Al word hierdie kinders ook hoe goed behandel, leef hulle geïsoleerd en word hulle nie aan die buitewêreld blootgestel nie. Hulle sien nooit honde, katte, voëls, motors of mans nie. Daar is geen vaderfigure nie. Dis eenvoudig nie deel van hul bestaanswêreld nie. En as die swaar traliedeure knarsend oop- en toeklap, sê hulle: “Dankie, hek.”

Soos die geval met hul ma’s is, is hierdie babas se vryheid dus ook ingeperk.

Sulke klein kinders het hul ma’s gedurende hul eerste lewensjare nodig, maar wanneer hulle eendag “buite” is, word hulle weer deur ’n ander soort trauma gekonfronteer. Daar is aanpassings en hulle word van hul ma’s geskei. En as daar nie familie is wat na hulle kan omsien nie, beland hulle in die staat se welsynstelsel.

Ek verneem dat die kinders vroeër by hul ma’s agter tralies gebly het tot hulle vyf jaar oud was, maar dat daar nou bevind is dat dit hulle sielkundig kan knou om so lank in die gevangenis te woon. Daarom is dit bevorderlik dat hulle so gou as moontlik in die samelewing aanpas deur op tweejarige ouderdom die gevangenis te verlaat.

“Die onsigbare slagoffers.” Dis wat babas en peuters agter tralies genoem word, lui ’n akademiese artikel in Acta Criminologica Southern African Journal of Criminology van 2010. Hierdie artikel getiteld “The reality of babies and toddlers behind bars” wat deur die kriminoloog prof. Anni Hesselink van Unisa en deur ’n senior lektrise aan die departement van kriminologie, Nontyatyambo Dastile, geskryf is, lui dat die werklikheid en omstandighede rondom hierdie babas selde herken word.

Die artikel lui dat kinders wat ’n “vonnis” saam met hul ma’s uitdien aan ’n harde, misdadige, rigiede en statiese omgewing blootgestel word. Gevangenskap het ’n baie traumatiese uitwerking op volwassenes, om dus nie eers van babas en kleuters te praat nie. Daar is ’n algehele gebrek aan privaatheid, vryheid van beweging, beperkte keuses en sosiale interaksie en ouderdomgepaste kontak wat alles bydraende faktore tot die baba se begrip van die werklikheid is. Hierdie onnatuurlike omgewing waarin hulle hul vormingsjare deurbring, maak dit moeilik vir die kind om later by normale omstandighede aan te pas.

Volgens ’n beleidsdokument rakende die prosedures vir ma’s en kinders van DKD se departement van maatskaplike dienste wat landwyd ingestel is, moet daar verseker word dat sekere dienste en programme vir ma’s en babas daagliks plaasvind. Hierdie prosedures het sy mandaat van onder meer die grondwet van Suid-Afrika, van ’n beleidsdokument (white paper) oor die spesiale behoeftes van ma’s en kinders, die Kinderwet sowel as van die Verenigde Nasies se Konvensie vir kinderregte (UNICEF) verkry.

Die ma moet behoorlik en onder leiding van ’n maatskaplike werker ingelig word oor die voorwaardes daaraan verbonde om haar kind in die gevangenis groot te maak. Daar moet ook emosionele bystand en berading by die toelatingseenheid verskaf word. Eksterne organisasies soos die departemente van maatskaplike ontwikkeling en kinderwelsyn moet van die begin af betrek word.

Terwyl die kinders onder DKD se sorg is, moet verseker word dat behoorlike kinderontwikkeling plaasvind. Personeellede moet met ’n kennis van ouerlike vaardighede, kinderopvoeding en die nodige wettige aspekte toegerus wees.

Die omgewing in die gevangenis moet babavriendelik en huislik wees en oorweging moet geskenk word aan volvloermatte. Daar moet ook na ’n huislike kombuis met ’n koelkas, mikrogolfoond, ketel, gordynkappe met gordynringe, werkruimte, eetgerei (plastiekmesse en -vurke) en kaste met toerusting wat vir sterilisasie gebruik word, gekyk word.

Waar moontlik behoort daar ’n TV-stel en DVD-masjien vir tekenprente vir kinders in elke sel te wees. Daar moet ook speletjies voorsien word wat tot die kinders se ontwikkeling sal bydra. Speelgoed moet vrylik beskikbaar wees en die sentrum moet jaarliks ’n begroting vir speelgoed opstel, maar die speelgoed kan ook by die werkswinkels van tronke vervaardig word. Borge van buite kan ook genader word om speelgoed te skenk.

Uittreksel uit: Bloed op haar hande: Vroue agter tralies, Carla van der Spuy, LAPA Uitgewers (2015)

Advertisements