Prof. Dap Louw, ’n forensiese sielkundige en kriminoloog wat ’n buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement sielkunde is, sê hy wil dit allereers duidelik stel dat elke mens uniek is. “Daar is nie ’n formule wat almal van ons oor een kam skeer nie. Ons motiewe, persepsies en interpretasies verskil. Een persoon sal gaan jag om vleis vir die pot te kry, ’n ander omdat dit ’n magspel tussen hom en die dier is, terwyl nóg iemand gaan jag omdat dit vir hom bloot lekker is om iets dood te maak, of dalk om saam met vriende in die natuur te verkeer. Maar dan is daar ook diegene wat glad nie met jag geassosieer wil word nie.”

Dit is ook só dat nie almal van ons aangetrokke voel tot die afskuwelike of grillerige nie, sê prof. Louw. “Ons moenie veralgemeen nie.” Een persoon sal dalk na ’n uiters gewelddadige rolprent kyk en dit as baie realisties en goed beskryf, terwyl die geweld iemand anders só sal ontstel dat hy sal uitstap.

“Dis soos pornografie,” sê prof. Louw. “Daar is talle mense wat graag daarna kyk, terwyl baie ander afgestoot word daardeur.”

Maar as jy wel die gewelddadige en die afgryslike fassinerend vind, kan daar een of meer redes hiervoor wees. Die redes verskil egter van mens tot mens:

  1. Nuuskierigheid

Dis in baie gevalle die belangrikste rede. Nuuskierigheid is deel van die menslike natuur, sê prof. Louw. Enigiets wat van die normale afwyk, trek ons aandag. Hoe meer ekstreem, hoe meer aandag trek dit. Dit is egter nie van almal waar nie. Sommige mense ry eerder weg van ’n ongelukstoneel sodat die slagoffers gou en behoorlik gehelp kan word, of omdat hulle nie beseerde mense en bloed wil aanskou nie.

  1. Jou lewe is maar vaal

Omdat baie mense se lewe nie juis opwindend is nie, trek enigiets wat buite hul daaglikse bestaansraamwerk val hulle aan. Dit is ’n adrenalien-inspuiting wat daardie aangename gevoel gee. Dis ook die gevoel van opwinding wat gepaardgaan met die neem van risiko’s, of om na ’n ongeluks- of misdaadtoneel te kyk omdat jy nie weet wat jy daar gaan aantref nie.

  1. Emosionele ontlading

Wanneer ander se leed jou ontstel en jy selfs daaroor huil, ontlaai jy dikwels ook jou eie emosies. Volgens prof. Louw staan so ’n emosionele ontlading as ’n katarsis bekend. Wanneer ons só uiting gee aan ons opgekropte emosies, lei dit dikwels tot emosionele verligting.

  1. Jou morele behoefte om tussen reg en verkeerd te onderskei, word bevredig

In die meeste rolprente en boeke oor die gruwelike en oor misdaad, word die goeie teenoor die slegte – dit wil sê die morele teenoor die immorele – afgespeel. Die morele oorwin gewoonlik. Al was die proses dalk gruwelik, is dit vir baie mense bevredigend dat die goeie oor die slegte triomfeer.

  1. Onderliggende sado-masochisme

Daar word soms beweer dat sommige van ons onbewuste sado-masochistiese behoeftes het. In só ’n geval put jy bevrediging daaruit om te identifiseer met ’n situasie waar jy seerkry of iemand anders laat seerkry. Prof. Louw waarsku egter: Teorieë oor die mens se onbewuste behoeftes en drange word dikwels gebruik om gedrag te verklaar, maar baie sielkundiges stem nie hiermee saam nie, juis omdat dit moeilik of selfs onmoontlik is om te bewys. Daarby aanvaar ons dat net ’n relatief klein persentasie mense sado-masochistiese neigings het.

  1. Dis ’n leerervaring

Ons is maar gedurig besig om onsself te ontleed, sê prof. Louw. Misdaad laat baie van ons dink oor die betekenis van lewe, lyding en die dood. Jy wonder dalk hoekom sommige mense ander doodmaak en jy leer daaruit – dalk om jouself te beskerm en daarom ’n soortgelyke insident te probeer verhinder. Jy besluit dalk dis beter om eerder jou jaloerse kêrel te los, want netnou doen hy so iets aan jóú. Jy wonder dalk ook hoe jy in ’n soortgelyke situasie sou optree, of miskien of jy ook – soos die moordenaar – sal knak.

  1. Jy kan empatie en dankbaarheid betoon

In dié almal-teen-almal-wêreld is empatie maar ’n skaars emosie, maar as dit deel is van wie jy is, sal misdaad jou empatie met die slagoffer ontlok. Empatie is die emosie wat ons ’n verbintenis met ander laat voel. As jy daarom enigsins vir ander mense omgee, sal dit vir jou lekker wees om empatie te kan betoon. Jy sal jou die gevoelens van die ma wie se seun op ’n toneel gesterf het kan voorstel, en jou waarskynlik ook kan inleef in hoe jy sou gevoel het as dit jóú kind was. Jy sal boonop só herinner word aan die kosbaarheid van die lewe en dankbaar wees daarvoor. Jy sal waarskynlik jou eie kinders meer waardeer en vanaand ’n ekstra drukkie gee.

  1. Jy hou daarvan om te fantaseer

Nes baie volwassenes dikwels op ’n kinderlike en selfs belaglike wyse daaroor fantaseer dat hulle ’n held is, of – al is hulle bejaard – vir die Springbokke rugby speel, net só fantaseer sommiges dat hulle ’n moord pleeg of selfs iemand verkrag.

Die verkragtingsfantasie klink dalk absurd, maar daar is verskillende grade van immoraliteit vir verskillende mense, sê prof. Louw. ’n Man wat redelik gelukkig getroud is, fantaseer byvoorbeeld by die werk dat hy met ’n getroude kollega bed toe gaan. Hy fantaseer oor hoe hy haar in die afrolkamer gaan nader. Sou sy nee sê, sal hy in sy fantasie teen haar wil met haar seks hê. Tog word dié fantasie nooit in die werklikheid uitgeleef nie.

“Sulke fantasieë hou ’n mate van bevrediging in. Dis amper ’n wensvervulling, al oorskry dit morele en wetlike grense. Die fantaseerder besef dit en sal nooit in die werklike lewe tot so iets oorgaan nie. Dis juis die punt: Jy fantaseer sonder dat jou verbeelde dade gevolge het – dis ver verwyder van die werklikheid,” sê prof. Louw.

  1. Dit hou jou gees gesond

Die Switserse psigoanalis Carl Jung reken dat jou geestesgesondheid van jou “skaduwee” afhang – daardie deel van die psige waar ons donkerste energie, soos melankolie en moorddadigheid, geberg word. (Hoe dikwels sê sommige van ons nie: “Ek was so kwaad, ek kon hom gerus vermoor het!”) Jung sê hoe meer ons die morbiede onderdruk, hoe meer wakker dit neuroses of psigoses aan. Om weer heel te word, moet ons daarom ons meer demoniese neigings erken.

Dit klink interessant en geloofbaar, maar is dit waar? vra prof. Louw. “Onthou, daar is ’n groot verskil tussen ’n geloof aan iets en wetenskaplike bewyse.”

Uittreksel uit: Vlees en bloed, Riette Rust met Eileen de Jager en Roelien Schutte (2016), LAPA Uitgewers

Koop die boek hier: http://bit.ly/2ch2R6j

 

Advertisements